Nuusverklaring
Uitgereik deur Pictures to go.
Ter bekendstelling van die CD getitel Raak.
Raak is ‘n kompilasie-album waarby van die land se groot name betrokke is. Die sangers sluit in Jak de Priester, Coenie de Villiers, Karin Hougaard, Pieter Koen en Mathys Roets. Onder die musikante was daar Mauritz Lotz, Denny Lalouette, Juan Oosthuizen, Lanie van der Walt (van “Not my dog”), Sean Manley en Jaconell Mouton.
Hoewel die album in verskillende ateljees opgeneem is (by Lanie van der Walt, Sean Manley, César de Almeida, Johan Rautenbach, André Swiegers en Louis Langerman) vorm die geheel ‘n eenheid.
Die fokus met die produksie was gehalte opnames, weldeurdagte liriek, sterk melodieë en verwerkings wat die styl van elke sanger in ag neem.
Alle liriek is geskryf deur Hanné Koster. So ook al die musiek, met die uitsondering van Ek ken vir jou, waarvan die musiek deur Coenie de Villiers gekomponeer is.
Coenie het die volgende oor die album te sê:
“Daar is baie sangers en musikante (ook in Afrikaans!), maar veels te min skrywers wat werk van gehalte kan lewer. Dit was heerlik om op hierdie projek te kon saamwerk met ‘n skrywer wat nou maar eers uit die verfwerk kom met ‘n klomp liedjies wat iets meer bied as die blote doef-doef wat die mark oorspoel. Ek sien uit om in die toekoms te hoor wat uit haar pen voortvloei!”
Die kombinasie van Karin Hougaard en Stean van der Walt in Alles het ‘n leeftyd is ‘n ongewone een maar werk goed – hulle stemme en style vul mekaar aan. Karin is bekend vir haar gevoelvolle vertolkings, en Stean word deur baie beskou as die sterkste stem in Afrikaans. Beslis die luister werd.
Karin se opinie oor die album:
“Hanné slaag daarin om met min woorde baie te sê. Daar’s ‘n onopgesmuktheid in haar lirieke waarby ek persoonlik baie aanklank vind. Haar melodieë is sterk en bly mens soms onwillekeurig by. Hierdie album se goue draad wat alles bymekaar hou ten midde van die diverse stemme, is Hanné se teenwoordigheid wat oral in die melodie en tekste deurskemer.”
Die tema van verlore liefde kom ook voor in Ek ken vir jou (gesing deur Coenie de Villiers) en Sonop is jy alleen (gesing deur Jak de Priester).
Vyf weke is die mees kommersiële snit op die album, en is tog iets anders as die styl waaraan Pieter Koen aanhangers gewoond geraak het.
Die hart luister mos nie gaan oor ‘n welbekende feit – dat logika ‘n mens nêrens bring wanneer dit by hartsake kom nie. Die hart luister eenvoudig na geen taal of oorreding nie.
Testosteroon redeneer nie gaan deels oor gesinsgeweld, en deels oor aggressie in die samelewing in die algemeen.
Die idee agter Vroue vir vrede het eintlik by Clarabelle van Niekerk begin – in ‘n e-pos aan Hanné oor Amerika wat in die Ooste oorlog maak het sy genoem “terwyl die mans oorlog maak bid die vroue eenkant vir vrede”. Hanné het onmiddellik gedink dat dit ‘n goeie trefsin vir ‘n liedjie is en gevra of sy dit kan gebruik. Clarabelle het ingestem. Die agtergrondstemme op die opname sluit die meeste sangers op die CD in, asook Nedine Blom en Elizma Theron.
Sophiatown (wie se Triomf is jy) is ‘n liedjie oor die woonbuurt in Johannesburg waarvan die geskiedenis so nou met gedwonge verskuiwings verbind is. Die onderwerp van gedwonge verskuiwing is iets wat selde in Afrikaanse musiek aangeraak word (maar dit is al tevore baie treffend gedoen, byvoorbeeld met David Kramer se liedjie Skipskop – waar Skipskop oor die verskuiwing self gaan, is Sophiatown (wie se Triomf is jy) meer ‘n hedendaagse blik op die geskiedkundige woonbuurt). Die musiekvideo van die liedjie is op die album ingesluit.
Toe Sophiatown weer (na jare wat dit as Triomf bekend was) op 11 Februarie 2006 sy oorspronklike naam terugkry, was Hanné een van die musikante wat by die amptelike naamgee-seremonie opgetree het. Om by dieselfde geleentheid as mense soos Hugh Masekela, Abigail Kubeka en Thandi Klaasen op te tree was ‘n groot eer.
Lise Swart, televisie-aanbieder en voormalige agtergrondsanger van Anton Goosen se opinie oor die album:
“Die CD spreek tot 'n wye gehoor as gevolg van diverse redes - nie net is die musiek en lirieke uiteenlopend nie, maar die genres strek van die kommersiële na dieper ballades en selfs rock.
Die album is beslis nie net vir verliefdes nie, maar ook vir denkendes, omdat verskeie temas aangespreek word. Die liedjies is so verwerk dat dit klink of die snitte spesiaal vir elkeen van die kunstenaars geskryf is - nie net wat die musiek en verwerking betref nie, maar ook tematies.”
Hanné is ‘n vryskut televisie-regisseur. Sy lewer hoofsaaklik tv-stories vir Pieter Cilliers Produksies (wat Kwêla op kykNET vervaardig). Sy het in Januarie 2008 Gauteng vir die Oos-Kaap verruil en is deesdae ook dosent in uitsaaijoernalistiek by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth.
Die album is vervaardig deur Whipstick Way en word versprei deur Pictures to go, ‘n onafhanklike produksie- en musiekmaatskappy. Raak is hulle eerste CD. Vir meer inligting, kontak Juanita Apostolis by 0768082522 of japostolis@gmail.com. Webwerf: www.pixtogo.co.za